DE JAGER SUKSES STORIE

Die eienaars van ‘ZUIDVAAL EXOTIC JAMS’, KOBUS & MARIE DE JAGER bedryf met die noue samewerking hul dogter SONETTE, die inmaak-sakeonderneming op die plaas ‘SCHUILPLAAS’ in die Amersfoort distrik. Hulle boer met ’n gemengde boerdery o.a. ’n Vleismerino vertakking, maar die konfytlyne word vir hulle al hoe meer ’n sterker kern-fokus.

MARIE is ’n buitengewone mens met ’n sterk bemarkingsaanvoeling, deurstettingsvermoe en strewe na sukses. Haar kosmaak-kennis en entrepreneurskap het ’n sterk ondersteunende basis gevorm toe sy in 2004 besluit het om haar eie onderneming te begin deur op baie klein skaal konfyt van nastergalbessies te kook. Die besigheid het vinnig vlamgevat.

‘ZUIDVAAL EXOTIC JAMS’ verskaf hoofsaaklik nastergalkonfyt, maar die reeks sluit ook ’n rits ander geure in (o.a. Appelkoos, perske ens). Hierdie produkreeks het werklik die potensiaal om op ’n nasionale vlak baie goeie aftrek onder verbruikers en ’n sterk markaandeel in die voorsieningsketting te verky.

MARIE het in 1976 as dorpsmeisie met KOBUS getrou. Hulle het by haar skoonma in die huis gebly en een voordeel was dat hulle allerhande vaardighede by haar kon aanleer, soos om nastergalkonfyt te kook. Destyds was nastergalbessies net op die wenakkers en kontoere van landerye te kry, en hoewel die konfyt gesog was, was dit skaars. Een kooksel het maar 10 heuningbotteltjies gevul.

MARIE – ‘ou-hand’ as dit kom by konfytmaak!: Nege jaar gelede het sy agtergekom die bessiesplante kan gekweek word. Haar man het dit spesiaal vir haar aangeplant en haar eerste “groot” kooksel was 300 botteltjies. Die nastergalaanplantings het elke jaar groter geword, en daarmee saam ook die konfytproduksie. Dit het al hoe meer werk geskep vir die vroue op die plaas en omliggende gebiede.

Tydens die nastergalseisoen, wat twee maande duur (Februarie en duur tot in Maart) help die hele gesin met die kookproses. Die nastergal word op die plaas self gekook omdat die bessies nie vervoer kan word nie. Wanneer dit gepluk word, moet dit so vinnig moontlik na ’n koelkamer gebring word omdat die bessies delikaat en sag is. ‘ZUIDVAAL’ neem met die oesproses 155 werkers deeltyds in diens. Twintig werkers kook vier maande lank aan die ander soorte konfyt (soos perske, appelkoos, tamatie, appelliefie, marmelade, soet lemoen en makataan) te kook.

Aanvanklik het die DE JAGER-gesin ’n paar botteltjies van die seldsame konfytproduk by padstalle gelewer, maar later het hulle ’n etiket laat ontwerp om op die botteltjies aan te bring. ‘ZUDVAAL’ se produk het grootliks bekend geraak deur ‘word of mouth’. Hulle bemarkingsnetwerk word ook pragtig ondersteun met ’n bruikbare webtuiste en ’n Facebookbladsy.

Die sukses wat die DE JAGER-familie behaal het kan grotendeels toe geskryf word aan die gehalte, kontinuïteit, ywer, trots en hul persoonlike teenwoordigheid gedurende produksie. Alles was ’n leerproses en hulle weet ook nou hoe om vorentoe verder uit te brei Die DE JAGER-famlie wil graag uitbrei deur meer konfyt te kook en die fabriek te vergroot.

Hulle kweek hulle eie saadbank en kweek saailinge by ’n plaaslike kwekery om aan te plant. Hulle wil graag skadunette oor die nastergal-aanplantings aanbring om die haelgevaar af te weer oor die nuwe saailinge wat elke jaar geplant word omdat die plant in die winter doodryp en slegs opslagplante weer opkom.

SONETTE, MARIE se skoondogter het ook toe getree tot die familie-boerfdery en is ook nou eerstehands betrokke om te help met die uitbreidings en om ’n oog oor alles te hou! Wat ’n voorreg om terug te ploeg in jou eie kinders!